Blog Title

HIER KOM ‘N DING

Iets is in die pyplyn – iets roer in die water van die Hartenbos kus, iets bewe in die biesies by die baai, iets kom – so bring jou Billabong baaibroek en kom kyk.

En kyk dan wéér, want die Hartenbos Seefront ondergaan ‘n Hannon-kaliber tranformasie. Die eerste fase van ons familie-vakansie is aan die bou en dit skop af in Desember! Kom verlustig jouself by die Hartenbos Seefront Openingsfees hierdie somervakansie, ons nooi julle uit vir ‘n makietie van 7 tot 11 Desember.

Elke kamp-entoesias, swembroek-Sannie, en sandkasteel-kind is welkom by die viering van Hartenbos soos ons hom ken en weer nuut gaan leer ken. Hierdie Desember, gaan selfs die roomys beter proe en die see blouer wees. Nee, regtig.

‘n Baken van lekker, van speel-tot-jy-uitpaas, van ‘n drankie met eish, van ‘n braaivuur wat knetter tot laat.

Dít is Hartenbos.

Die hartklop van Afrikaans.

Die Sonskyn Staat.

Soveel mini-donut herinneringe, stywe trampoline-bene, en kleurvolle strandsambrele beweeg jaarliks deur hierdie kusdorp se welige strate. Die opskerp van die seefront is met sentiment behandel, sodat elke eg-Hartenbos seevakansie-oomblik steeds voort sal leef met eer en dat elke nuwe herinnering in hoë-definisie geniet kan word. Lewendig en drie-dimensioneel.

Dié openingsfees is natuurlik ‘n familie affêre. ‘n Fees waar jy jou ouma én jou vriende kan gelukkig hou – jou modebeswuste vriendin van die Kaap én jou Ben10 boetie. Stuur die kleintjies na die pretpark waar die eerste 100 verniet toegang kry vir die hele eerste week. Hier kan hulle bons, roomys-lek en gly totdat hulle energievlakke plato.

Of dalk wil hulle selfs in die Colour Run deelneem. Dink aan al daai Facebook fotos waar mense gepoeier en gekleur staan en so stuk-stuk hulle sonbrille skoonvee om te kan sien – dis morserig, maar die goeie OMO tipe morserig.

Die aksie stop nie daar nie. Die oorlog-film, Modder en Bloed premier ook in hierdie week en sal sorg vir skouer skuur met die regisseur Sean Else en die enorme string van bekendes in hierdie fliek. Hou die fone reg.

Of dalk ontmoet jy die sterre tussendeur die fees. Een wat langs jou hardloop by die Colour Run, deelneem in die CrossFit kompetisie of dalk net onskuldig staan en kyk na die flik-flak van die gimnaste.
Saam met al hierdie sonkyn, kom daar dikwels ‘n paar gryser dae waar die son bietjie afvat en rus agter ‘n wolk wat ons afkoel met ‘n paar druppels reên. ‘n Bietjie lafenis! ‘n Kans vir die sonbrandroom om ook te rus. Dis so ‘n tipe dag wat roep vir ‘n woltrui óf ‘n besoek na die verhitte swembad. Die perfekte plas-plek vir ‘n koel dag.

As Hartenbos jou hart het, en jou kampplek al jare vooruit bespreek is, dan gaan hierdie fees jou taal praat. As jou familie sukkel om te besluit waar hulle Desember wil vakansie hou, laat weet hulle nou. As jou vriende almal wil wegbreek vir ‘n naweek, breek hier weg.

Vir ‘n vakansie gevoel wat nooit ophou nie, kom plas in die golwe of kom eet ‘n lekker vis en tjips by Hartenbos hierdie Desember.