Blog Title

SOOS MELKTERT DEUR ONS ARE


‘n Fiesta is ‘n deftige naam vir ‘n Fees. Vir ‘n lekker-ding, vir ‘n partytjie, vir kleurvolle-kaskenades en plesier brigades. Welkom by die Seefront Somer Fiesta in Hartenbos.

Met liefde en waardering vir julle gereël deur die Hartenbos Seefront mense en ATKV-Hartenbos. ‘n Lekker spanpoging wat strek van 7 Desember tot 7 Januarie.

Vanaf Desember transformeer Hartenbos in ‘n kaleidoskoop van dinge om te doen, kos om te smul, mense om te ontmoet, branders om te trotseer en fotos om te neem.
Fotos by ‘n foto-hoekie, met jou geverfde gesig, met jou Bingo wennommers, of van jou op die verhoog by die Lip-sync Kompetisie. Want dis lekker om fotos te neem. En dis ook lekker om te sing.

Die héle Hartenbos Seefront gaan ‘n verhoog wees hierdie somervakansie. Met snaakse stories van Wikus van der Merwe en Andries Vermeulen, en saamsing lirieke van Bok van Blerk, Nadine, Heuwels Fantasies en Dewald Wasserval.

Of as jy self op die verhoog wil klim kan jy jou debuut by die Seefront Sing Kompetisie maak, of miskien Mej Fotogenies ‘n kans gee, dalk selfs die catwalk loop as Mej Seefront. Maar jy kan ook net op die strand lê en toebroodjies uit die koelerboks eet. Dis ook okay.

Die klein karjakkers het ook ‘n string aktiwiteite om hulle besig te hou sodat hulle ouers regtig kan vakansie hou en nie net heeltyd roomys handjies hoef af te droog nie. En so kan moeks ook net op die strand lê en toebies eet terwyl die kinders luister na Lilly van Liedjieland of na Super Cool Nadine. Of die kleintjies kan verlore raak by Klikkerland of deel uitmaak van Mnr en Mej Kakkiebos. Kom Kersfees – is daar selfs ‘n wit-baard Kersvader om op die wang te soen.

Praat van soen – die inry fliek word vir een aand in Desember oopgemaak en gaan Sean Else se Modder en Bloed film wys. Bespreek nou aanlyn by I-ticket, dié een gaan die moeite werd wees.

En dan kom Oujaarsaand. ‘n Aand vir vuurwerke en daai ongemaklike (of hopelik wonderlike) middernag-soen (nóg ‘n soen geleentheid).

‘n Gelukkige aand aangehelp deur ‘n regstreekse uitsending op kykNET, met Jukebox se musiek wat die lig-voetiges sal laat dans. En dan die aftel van die laaste paar sekondes van 2016. Groot partyjie, min slaap en baie fotos om oor te lag die volgende oggend.

Almal het ‘n herinnering op Hartenbos. ‘n Oomblik vasgelê in die frontale lob. ‘n Greep in tyd wat ‘n bietjie ruik soos sonbrandroom en ‘n bietjie lyk soos ‘n Kurt Darren musiekvideo. Hierdie Desember bedien Hartenbos vir jou nog sulke herinneringe en sommer kalamari ook.

Somervakansies is vol oomblikke waar jy halfpad deur die supertube uitvind jou swembroek is nie styf genoeg vasgemaak nie, oomblikke waar jy vir die eerste keer strand toe gaan met jou meisie se familie, oomblikke waar die man wat ballonne knoop vir jou ‘n swaard maak wanneer jy eintlik ‘n poodle wil hê. Maar dis oomblikke wat jy onthou – jou ma se braaibroodjies, die bars van bloublasies op die strand, die uitpaas middagslapies, die laat-aand fluister en giggel om niemand wakker te maak nie.

Dís ‘n somervakansie op Hartenbos. Kom kuier as jy verlang.